Spoor kanker by mans vroegtydig op
Alle mans behoort hulle gesondheid op te pas deur uit te vind hoe om manskankers vroegtydig op te spoor, aldus die Kankervereniging van Suid Afrika se boodskap as deel van hulle mansgesondheid veldtogte gedurende Junie en Julie.
“Jarelank het ons vrouens aangemoedig om vrouekankers vroegtydig op te spoor, en nou wil ons mans aanspoor om pro-aktief te wees deur gereelde selfondersoeke en bloedtoetse om manskankers vroegtydig op te spoor”, aldus Sue Janse van Rensburg, Hoof Uitvoerende Beampte van KANSA. “Dis belangrik dat mans hulle liggame so moet ken dat hulle veranderinge kan raaksien en iets daadwerklik daaromtrent doen”.
Testikulêre kanker kan by mans tussen 15 en 40 jaar ouderdom voorkom. Mans word aangemoedig om hulle testes elke maand te ondersoek en na die onderstaande waarskuwingstekens op te let:
• ‘n Harde, ertjiegrootte knop aan die voor- of sykant van die testikel
• Vergroting of verswaring van ‘n testikel
• Opdam van vloeistof in die skrotum
• ‘n Dowwe pyn in die lies
Prostaatkanker affekteer weer mans oor die ouderdom van 50 en is die algemeenste manskanker in Suid Afrika met een uit elke 24 mans wat geaffekteer word. Die waarskuwingstekens is:
• Moeilike passering van urine
• ‘n Gereelde behoefte om te urineer
• Dit is moeilik om te begin urineer of om dit te stop
• Bloed in die urine
• Pyn of brandgevoel tydens urinering
• Pyn in die lae rug, die bokant van die dye of in die bekkenarea
Die Prostaat Spesifieke Antigeen (PSA) is ‘n eenvoudige bloedtoets wat die teenwoordigheid van ‘n spesifieke proteïen bepaal wat aanduidend van prostaatkanker kan wees. Mans behoort hulle geneeshere onmiddellik te nader as enige van die boegenoemde waarskuwingstekens vir manskankers waargeneem word. Hoe vroeër ‘n kanker opgespoor en behandel word, hoe groter is die kanse op sukses.
Om bewustheid van manskankers te bevorder en KANSA se Mansgesondheid veldtog te loods, stel KANSA ‘n nuwe en unieke balspel bekend – die P-Bal. Dit behels ‘n klein bio-afbreekbare balletjie wat in die toilet of urinaal gesit word, met die oogmerk om dit so gou moontlik met urine te vernietig om daardeur die sterkte van die urienstroom vas te stel. ‘n Swak stroom mag aanduidend wees van prostaatkanker en sulke mans behoort hulle geneesheer te raadpleeg.
KANSA is trots om die steun te hê van Aartsbiskop Desmond Tutu en Mark Pilgrim, beide toegewyde kankeroorlewendes, met die bekendstelling van die P-Bal, KANSA se Mans Gesondheidontbyt en KANSA se vroeë opsporingsboodskap.
Vir meer inligting, nader asseblief Mercia Kearney, HPC, KANSA, Upington/Kalaharistreek of e-pos mkearney@cansa.org.za of telefoon 054-3324937 of sel 082 459-5230. Vir meer inligting kontak KANSA tolvry op 0800 22 66 22 of op webwerf www.cansa.org.za



Hi , kan julle dalk vir my meer inligting aanstuur van prostaat kanker, my pa is vrydag ge-diagnoseer en so wou weet wat dit beteken vir sy toekoms en wat gaan dit beteken na die ooperasie. wat sal die kaans wees dat verdere kanker verspreiding wees, tans kan hy nie die nood operasie aangaan nie oordat daar infeksie betrokke is.
Baie Dankie
Martin Dorfling