Youngster FC – passievol oor sokker
A.B Cloete – Concordia
‘n Stowwerige stuk aarde en ‘n klomp seuns wat bal skop dat die stof so staan. Dit is ‘n algemene gesig in ons distrik en die meerderheid van ons kan identifiseer met daardie latte in die straat of oop stuk veld.
Dit is dan ook wat my geïnteresseer het nadat ek opgelet het dat jong seuns menige dae van oral op die dorp toesak op die ou sokkerveld in Koolshoek, Concordia. By verdere navraag ontdek ek dat ‘n plaaslike besigheidsman van Concordia Mnr. Marius Slinger, ‘n sokkerklub gestig het in Mei 2011.
Die Klub heet Youngsters FC en het 4 spanne van verskillende ouderdom groepe, O 14, O 13, O 12 en O 10.
Mnr. Slinger sê hy het die Klub gestig om sy passie vir sokker en gemeenskapsdiens so saam uit te oefen. Hy voel dat buitemuurse aktiwiteite ontbreek en die kinders van dié gemeenskap dikwels nie genoegsame stimulering het nie. Sport is ‘n gesonde afleiding van kwaai jong streke en ernstiger sosiale euwels soos drank en dwelm misbruik, alhoewel dit uitdagend kan wees met van die ouer seuns.
Dis inisiatiewe soos hierdie wat die idee van onbaatsugtige gemeenskapsdiens ‘n werklikheid maak. Die jong Sokkerklub sukkel met finansies en praktiese uitdagings soos vervoer na plaaslike kompetisies, uniforms, balle, nette, sportskoene, ens. Hy voel daar is nie genoeg fokus op jonger spelers nie, soos ontwikkelings programme wat spesifiek gerig is op jonger ouderdom groepe. Dit veroorsaak dikwels dat die kinders op ‘n latere ouderdom nie genoegsame motivering en passie het om hul sport verder te neem nie.
Slinger bevestig hy het ‘n sterk band met die plaaslike laerskool, Concordia Primêr. Hy probeer dat oefensessies nie inmeng met skool en kerk verpligtinge nie en benadruk aan die spelers dat skoolwerk prioriteit is, veral eksamen tye!
Die Klub is tans besig met fondsinsamelings vir ‘n toer na Kaapstad gedurende die laaste week van die Julie skoolvakansie. Hulle is genooi deur Avondale Athletico Sokkerklub van Athlone om aan hul jaarlikse toernooi deel te neem. Ongelukkig sal net een span, die O13′s die toer kan meemaak. Die toer sal die seuns hopelik wys dat hul sport hul verder as die grense van Namakwaland kan neem. Op die oomblik dra Mnr. Slinger die meeste van die koste wat kortkom uit sy eie sak, en maak gebruik van huisvesting by familie. Enige hulp en ondersteuning sal waardeer word. Ons wens die O13′s Youngsters span sterkte en sukses toe met hul toer! Mnr. Slinger kan gekontak word op 0731582019 vir enige navrae of borgskappe.


