Departement van Landou bied Boerdery Kursus aan
Arthur B. Cloete – Concordia
Gedurende die week van 02 Julie tot 06 Julie 2012, het die Departement van Landbou ‘n Omvattende Boerdery Kursus aangebied te Concordia. Die kursus wat oor een week gestrek het, is aangebied deur Louis de Jager Landbou Voorligter vanaf Postmasburg.
Die kursus is gemik op opkomende boere wat hul boerdery praktyke wil verbeter, deur hul kennis te verbreed met betrekking tot alle fasette van die Boerdery bedryf. Daar is gefokus op die basiese beginsels van veldbestuur, kudde verbetering, gesonde boerdery praktyke en ook die finansiële bestuur wat benodig word om jou boerdery suksesvol te bedryf. Goeie en praktiese voorbeelde van die verkeie onderwerpe is voorgelê aan die boere van die dorp. In ‘n neutedop was die belangrikste dat die basiese weiveldbestuursbeginsels soos voorkoming van oorbeweiding, te groot kuddes vir die drakrag van die veld, gesonde bestuurspraktyke, basiese rekordhouding en beplanning, indien toegepas ‘n suksesvolle en langdurige boerdery onderneming sal verseker.
Op navraag het Mnr. de Jager gesê dat hy hoop die kursus die nodige inligting en kennis aan die boere sal verskaf wat nodig is om meer ekonomies te kan boer deur hul veld te verbeter en so ‘n beter lewensstandaard te verseker. Hy en sy assistent Me Denise Strauss het genoem dat hulle in die huidige jaar die kursus aanbied oor die hele Namakwa Streek, en dat die terugvoering wat hulle tot dusver gekry het baie positief is.
Dit was dan ook meestal die gevoel van dié wat die kursus bygewoon het in Concordia. Boere moet die goeie praktyke van hul tradisionele kennis kombineer met nuwe kennis en so hul boerdery versterk om te kan wegbeweeg van ‘n sukkel-bestaan na een wat ekonomies voordelig is. Die streek se Boere kan hul plaaslike Landbou Voorligters of kantore kontak vir meer inligting indien hulle belangstel in dié of soortgelyke kursusse.


