Nog twee studente van Namakwaland ontvang beurse om te Kuba te studeer
Philip Bence – Springbok
Hierdie jaar word beplan om ʼn duisend studente Kuba toe te stuur om medies te gaan studeer. Hulle is gekeur deur die hele land en alhoewel daar baie inskrywings uit Namakwaland was, is net twee na die streng keurings proses gekies, om medies te gaan studeer. Hulle is Sue-Ann Spence van Pella en Ethen Pekeur van Bergsig. Hulle sal hulle aansluit by Jasswille Volmer, Samantha Jannetjies en Roland Waterboer wat ook uit ons streek afkomstig is en reeds in Kuba studeer. Jolene Beukes van Rooifontein, het sopas teruggekeer nadat sy haar studies daar voltooi het en nou haar finale jaar se studies by die Universiteit van Stellenbosch sal voortsit.
Om te kwalifiseer om in Kuba medies te studeer moet die kandidaat ten minste 50% behaal het in Engels, Wiskunde, Biologie en Fisiese wetenskap. Verder moet hulle ʼn volledige mediese ondersoek slaag waarna die onderhoude op Provinsiale vlak deur ʼn paneel met elkeen van die verkose kandidate gevoer word. Dit staan oop vir studente van alle rasse en geslagte om aansoek te doen maar uit die aard van die saak word voorheen benadeeldes, bevoordeel. Na hierdie hele proses afgehandel is, moet die verkose studente tesame met hul ouers ʼn drie dae induksie kursus deur maak om almal in te lig oor omstandighede in Kuba en wat daar op hulle wag.
Tydens die eerste jaar van studie word daar op praat en skryf vaardighede gefokus en `n inleiding tot mediese studies word aangebied. In totaal duur die studies vyf jaar. Anders as in Suid Afrika, het die mediese fakulteite in Kuba ʼn voorkomende benadering.
Die beurse wat deur die Departement van Gesondheid aan die studente gegee word dek al hul kostes en uitgawes en sluit selfs ʼn maandelikse toelaag in vir eie gebruik. Die studente kan slegs elke twee jaar ʼn vakansie by die huis geniet waarvan die kostes ook deur die beurs gedek word. As deel van die ooreenkoms wat met die studente aangegaan word, moet hulle onderneem om hul dienste in die provinsie aan te wend, na voltooiing van hul studies.
Daar is tans ʼn hele klomp studente wat by tersiêre inrigtings soos Universiteite, Technikons en kolleges studeer wat ook beurse van die Departement van Gesondheid ontvang het. Daar is jaarliks beurse beskikbaar vir studente wat in gesondheid verwante beroepe wil studeer. Die aansoek om ʼn beurs word vanaf September ontvang en kan by die Departement se kantore in Springbok ingedien word. Meer inligting sal later bekend gemaak word. Die inskrywing en toelating om verder te gaan studeer by ʼn tersiêre instelling, is steeds die student se verantwoordelikehid.
Die persone wat beurse ontvang, groei jaarliks. In Namakwa streek was daar in 2009 net 26 studente waarna dit gegroei het tot 49 in 2011 en hierdie jaar ontvang 77 studente beurse. Skoliere en voornemende studente word aangemoedig om aansoek te doen om die beurs skema en om hulself te kwalifiseer in ʼn medies verwante beroep. Dit sal uiteindelik meebring dat die gemeenskappe van Namakwaland die vrugte daarvan pluk.


